The development of a tourism curriculum evaluation model for secondary schools / Mathilda van Niekerk

Autor: Van Niekerk, Mathilda
Rok vydání: 2003
Druh dokumentu: Diplomová práce
Popis: Toerisme word vandag as een van die vinnig groeiende bedrywe in die wêreld gesien. 'n Probleem wat Suid-Afrika egter in die oë staar word saamgevat deur SAT (Suid-Afrika se Toerismeraad) wat beweer dat toerisme eerstens nie aan die publiek bekend gestel word nie en dat daar tweedens 'n toerisme-kultuur onder Suid- Afrikaners ontwikkel moet word. Die Witskrif oor Toerisme verklaar dat toerisme-opvoeding en opleiding een van die fundamentele pilare is in die ontwikkeling van nuwe verantwoordelike toerisme in Suid-Afrika. Toerisme-opvoeding kan dus 'n oplossing wees vir beide die bogenoemde probleme. Toerisme-opvoeding in Suid- Afrika speel ook 'n belangrike rol in die ondersteuning van toerismeontwikkeling en die versekering van deurlopende verskaffing van kwaliteit menslike hulpbronne om aan die oorweldigende vereistes van die bedryf te voldoen. 'n Analitiese ondersoek is geloods om 'n kurrikulum-evaluasiemodel vir toerisme op sekondêre vlak daar te stel. Die model is gebruik om die kurrikulum te evalueer en te bepaal wat die effektiwiteit van 'n toerisme-kurrikulum as toerismebewustheidsinstrument is, asook wat die invloed van die bewustheid op die toerisme-industrie sou wees. Uit die literatuurstudie wat gedoen is, het dit duidelik geword dat dit noodsaaklik was om eers die bestaande toerisme-kurrikulum te evalueer alvorens bepaal sou kon word of dit 'n doeltreffende toerismebewustheidsinstrument is. 'n Nuwe kurrikulum-evaluasie model is ontwerp wat 'n kombinasie was van die EPIK-model, oftewel Evaluerende Program vir lnnoverende Kurrikula, en die model van Zenger & Zenger vir kurrikulum beplanning. Die model is in die studie gebruik om die kurrikulum te evalueer en te bepaal hoe suksesvol die doelwitte en doelstellings van die kurrikulum bereik is. 'n Aantal opvoedingsverbeterings aangaande kurrikula-ontwerp, skoliere en opvoedkundiges se kwalifikasies en kennis, word bespreek. Drie vraelyste is ontwikkel, een vir leerders met en sonder toerisme as skoolvak, een vir ouers wie se kinders toerisme as skoolvak neem en die wat dit nie neem nie. Die derde vraelys is ontwikkel vir fasiliteerders wat die kurrikulum evalueer. Die vraelyste is gebruik om die gesindheid en bewustheid van toerisme-leerders teenoor die toerismebedryf te meet. Die verskil in bewustheid tussen leerders met en sonder toerisme word ondersoek en die invloede wat leerders het op die reispatrone van hulle ouers word gemeet. Statistieke is ontleed en weergegee deur middel van faktorbepaling asook beskrywende resultate. Die resultaat van die ondersoek het aangetoon dat die kurrikulum suksesvol is om bewustheid onder leerders te vestig. Die ondersoek het getoon dat 'n groot probleem die toerismeopvoeding in sekondêre skole in die gesig staar. Die sleutel dilemma kan beskryf word as die gebrek aan gekwalifiseerde kurrikulum-implementeerders en fasiliteerders sowel as die beperkte komponente van die toerismebedryf wat in die kurrikulum opgeneem is. Nog 'n bevinding uit die literatuur is dat daar min evalueringsmodelle beskikbaar is om kurrikulum-evaluering te doen en dat daar geen evaluasiemodel vir toerisme bestaan nie. In die breë is 'n evaluasiemodel daargestel om die toerisme-kurrikulum op sekondêre skoolvlak te evalueer en te bepaal of die kurrikulum 'n effektiewe toerismebewustheidsinstrument is.
Thesis (Ph.D. (Tourism))--North-West University, Potchefstroom Campus, 2004.
Databáze: Networked Digital Library of Theses & Dissertations