Přispěvatelé: |
De Beer, Z.L., Vos, D., 24804533 - De Beer, Zacharias Louw (Supervisor), 11084510 - Vos, Deon (Supervisor) |
Popis: |
MEd (Internasionale en Vergelykende Opvoedkunde), North-West University, Potchefstroom Campus Die onderwysstelsel is ʼn essensiële komponent in die samelewing, wat daarvoor verantwoordelik is om in die onderwysbehoeftes van leerders te voorsien. Dit bestaan uit verskeie komponente en die aard daarvan word veral deur interne en eksterne kontekstuele faktore bepaal. Die uitdaging van taal as eksterne kontekstuele faktor kom voor wanneer die onderrigmedium van onderriginstellings bepaal moet word. Taal as onderrigmedium word as ʼn sensitiewe kwessie beskou, veral wanneer ’n onderwysstelsel oor veeltalige leerders beskik. Voorts plaas globalisering en internasionalisering druk op onderwysstelsels om Engels as taal van onderrig en leer te gebruik. Die probleem wat geïdentifiseer is, is dat taal konflik en spanning in onderwysinrigtings kan skep, wat dan verder probleme en uitdagings vir onderwysstelsels asook die leerders in die skool en die omliggende samelewing meebring. Die studie bestudeer die aard van taal as ʼn eksterne kontekstuele faktor van die onderwysstelsels van die BRICS-lidlande. Die doel van die studie is om ooreenkomste en verskille met betrekking tot taal as ʼn eksterne kontekstuele faktor van die onderwysstelsels van bogenoemde lidlande te identifiseer en te vergelyk om uiteindelik die beste moontlike praktyke te bepaal. Die navorsing is vanuit ʼn kwalitatiewe benadering gedoen. ʼn Vergelykende en verkennende studie was die mees gepaste metode vir die studie. Die navorser het gebruik gemaak van dokumentontleding as metode van ondersoek vanuit die interpretivistiese navorsingsparadigma. Die BRICS-lidlande is as deelnemende lande vir die studie gekies, aangesien elkeen van die lidlande oor ʼn aansienlik diverse kultuur en taalverskeidenheid beskik. Elk van die deelnemende lande beskik oor uitdagings met betrekking tot die onderrigmedium in die onderwysstelsel en elke land benader die uitdagings op ʼn ander wyse. Verskillende mediums van menslike kommunikasie is ingesamel en deur middel van inhoudsontleding in ʼn vergelykende tabel geïnterpreteer. Amptelike regering- en beleidsdokumente, koerantberigte, boeke en akademiese artikels rakende taal in die onderwysstelsels van die BRICS-lidlande is vir die navorsingstudie ondersoek. Die navorsing het bevind dat taal ʼn tersaaklike en sensitiewe kwessie in die onderwysstelsels van die BRICS-lidlande is. Alhoewel elke land se grondwet voorsiening maak vir onderrig en opleiding in individue se moedertaal, is dit egter nie wat in die praktyk ervaar word nie. Die navorsing het bevind dat wanneer ʼn groep individue nie tevrede is met die taal waarin hulle onderrig en leer ontvang nie, dit tot opstand, konflik, verdeeldheid en chaos onder leerders en studente kan lei. Taal het die vermoë om ʼn individu uit sy of haar (swak) sosio-ekonomiese omstandighede te lig deur toegang tot tersiêre opvoeding moontlik te maak. Dit het ook die vermoë om ʼn individu te help om in die werksektor bevorder te word. Die teenoorgestelde effek is egter ook moontlik; byvoorbeeld, wanneer ʼn individu nie Engelsvaardig is nie, kan dit hom of haar beperk tot ʼn sekere vlak van opvoeding of bevordering in die werksektor. Laastens identifiseer die studie die beste moontlike praktyke ten opsigte van taal as ʼn eksterne kontekstuele faktor in die onderwysstelsels van die BRICS-lidlande ten einde die wyse waarop taal in hierdie onderwysstelsels figureer, te verbeter. Die navorsing beoog om ʼn fondasie te lê vir verdere moontlike studie rakende die aard van die taal van die onderwysstelsels van die BRICS-lidlande. Masters |