Die funksies van die Meester in die geval van gebrekkige testamente

Autor: Lourens, C.
Přispěvatelé: Kloppers, H.J., Gildenhuys, A., 10936386 - Kloppers, Hendrik Jacobus (Supervisor), 11987308 - Gildenhuys, Anel (Supervisor)
Jazyk: angličtina
Rok vydání: 2021
Popis: LLM (Boedelregy), North-West University, Potchefstroom Campus Die Meester van die Hoë Hof word ingevolge artikel 2 van die Boedelwet deur die Minister van Justisie en Staatkundige Ontwikkeling aangestel. Die Meester het 'n verskeidenheid funksies wat uitgevoer moet word en die wye verskeidenheid magte, pligte en verantwoordelikhede van die Meester word in die Boedelwet voorgeskryf. Een van die vernaamste funksies van die Meester is om oor die bereddering van bestorwe boedels toesig te hou. Wanneer 'n persoon testaat tot sterwe kom, sal die Meester die dokument, wat bedoel is om as testament te dien, ondersoek en bepaal of die dokument op die oog af aan die formaliteitsvereistes wat in artikel 2(1) van die Wet op Testamente gestel word, voldoen. Wanneer die dokument nie aan al die formaliteitsvereistes voldoen nie, is die dokument formeel ongeldig en sal die Meester dit diensooreenkomstig verwerp. In reaksie hierop is artikel 2(3) van die Wet op Testamente bygevoeg, welke artikel 'n kondonasiebevoegdheid aan die Hoë Hof verleen in gevalle waar 'n dokument nie aan al die formaliteitsvereistes voldoen nie. Dit beteken dat die betrokke dokument, deur middel van 'n aansoek, vir kondonering na die Hoë Hof verwys kan word. Die Meester het tans geen bevoegdheid om 'n gebrekkige dokument te kondoneer nie. Die beredderingsproses word vertraag indien die gebrekkige dokument eers na die hof vir kondonering moet gaan. Daarom is ondersoek ingestel, tot watter mate die funksies van die Meester uitgebrei kan word om ook die kondonering van gebrekkige testamente in terme van artikel 2(3) van die Wet op Testamente in te sluit. Die uitbreiding van die kondonasiebevoegdheid na die Meester sal beteken dat die werkslading in die Meesterskantoor verhoog. 'n Belangrike aspek wat in reaksie op die swaarder werkslading ondersoek word, is artikel 2A van die Boedelwet. In hierdie artikel word die Minister gemagtig om addisionele dienspunte aan te wys om die Meesterskantoor by te staan in die uitvoer van sekere pligte. Die bewoording in subartikel 2A(3) kan op so 'n manier geïnterpreteer word, om aan die Minister die bevoegdheid te verleen om addisionele poste te skep wat spesifiek voorsiening sal maak vir die uitbreiding van die Meester se funksies met betrekking tot die kondonasiebevoegdheid. Verder word ondersoek hoe die kondonasiebevoegdheid van die Meester prakties toegepas sal word. Die uitvoering van die kondonasiebevoegdheid deur die Meester word daarom vergelyk met die prosedure, soos uiteengesit in die Wet op Belastingadministrasie, in hoofstuk 9. Hierdie voorgestelde prosedure maak voorsiening vir 'n kondonasie proses wat meer effektief is en hou 'n groot voordeel in vir verbetering op die gebied van boedelbereddering. Masters
Databáze: OpenAIRE