Přispěvatelé: |
Greyling, S.F., Fourie, H., 10271341 - Greyling, Susanna Francina (Supervisor), 12888125 - Fourie, Heniel (Supervisor) |
Popis: |
MA (Grafiese Ontwerp), North-West University, Potchefstroom Campus In hierdie studie lewer ek verslag oor die toeganklikmakingsproses van die Byderhand-Pionierprojek, ʼn plekspesifieke digitale literatuurprojek, vir gebruikers met siggestremdheid. Plekspesifieke digitale literatuur is ʼn vorm van elektroniese literatuur waar multimodale tekste op spesifieke plekke beskikbaar gestel word om meelewende ervarings aan die gebruiker te bied. Hierdie projek, wat op uitnodiging van ʼn skool vir leerders met siggestremdhede in die Wes-Kaap uitgevoer is, is ʼn voortsetting van die bestaande Byderhandprojek. Die nuwe projek sou deel vorm van ʼn multisensoriese tuinprojek op die skoolterrein. Die konteks van die gebruiker het gelei tot die vraag: hoe kan die Byderhand-koppelvlak en -platform toeganklik gemaak word vir gebruikers met siggestremdheid? Die interdissiplinêre praktykgebaseerde navorsingsprojek is as ʼn deelnemende projek (Heron & Reason, 1997) en aan die hand van die multimodale ensemble vir plekspesifieke digitale literatuur (Greyling, 2017) gekonseptualiseer en uitgevoer. Om my vraag as multimedia-ontwerper oor die ontwerp van ʼn toeganklike koppelvlak te beantwoord, het ek gebruik gemaak van ʼn mede-ontwerpsbenadering. Tydens die ontwerpsproses het ek beginsels van gebruiker-gesentreerde, toeganklikheids- en universele ontwerpteorieë verweef om praktiese en bruikbare oplossings te vind. Die finale ontwerp behels ʼn multimodale koppelvlak, wat bestaan uit ʼn kombinasie van tasbare, ouditiewe en grafiese koppelvlakke. Die projek is suksesvol geïmplementeer en word gebruik deur blinde, swaksiende en siende gebruikers. Die ontwerpsoplossings wat ontwikkel is, bied verdere toepassingsmoontlikhede binne die konteks van toeganklikheidstegnologie. As multimedia-ontwerper het hierdie projek my bewus gemaak van die verantwoordelikheid wat ontwerpers het ten opsigte die gebruiker en toeganklikheid. Masters |