’n Alternatief vir die Premillennialistiese standpunt in die AGS van SA

Autor: Hattingh, M.A.L.
Přispěvatelé: Möller, F.P., Vorster, N., 23472286 - Möller, Francois Petrus (Supervisor), 10097910 - Vorster, Nicolaas (Supervisor), Möller, F.P., Dr, Vorster, N., Prof
Rok vydání: 2018
Předmět:
Popis: MA (Dogmatics), North-West University, Potchefstroom Campus Getrou aan die Pinkster tradisie is die AGS Kerk se eskatologiese benadering hoofsaaklik Premillennialisties. Soms word na Premillennialisme verwys as 'n filosofie van geskiedenis. God is in die geskiedenis besig om sy heerskappy tot stand te bring en Premillennialisme leer dat een van die fases van sy heerskappy behels dat Christus 'n tussenryk waar Hy fisies op die aarde sy mag gaan uitoefen, gaan vestig. Dit word genoem die "Messiaanse Vrederyk". Premillennialiste voel baie sterk oor hulle oortuiging en Skrifuitleg en dit is duidelik dat van hulle 'n ernstige probleem met ander benaderings het. Soms wil dit voorkom asof hulle meen dat deur die verwerping van Premillennialisme word die wese van die Evangelie aangeraak. In die historiese ontwikkeling van Millennialisme word die invloed van Joodse en apokaliptiese verwagtings wat tussen die Ou en Nuwe Testament ontwikkel het, duidelik. Die vergeesteliking van die skeppingsverhaal (ses dae van die skepping en die sewende dag as rusdag) het ook bygedra tot die vorming van die Millenniumteorie. Deur die eeue was Premillennialisme nooit die prominente eskatologiese beskouing van die kerk nie. Dit het dikwels gedurende laagtepunte in die kerklike lewe opgevlam. Daar was veranderings en ontwikkelings in die leer van Premillennialisme en soms was vleuels van die beweging radikaal, veral in pogings om die verwagte Messiaanse ryk in 'n "Nuwe Jerusalem" te vestig. In die 19de eeu het Millennialiste die posisie ingeneem om profesieë in hulle Skrifbenadering letterlik te vertolk. Dispensasionele Premillennialisme het 'n nuwe metode ontwikkel vir die interpretasie van die Bybel en kontemporêre wêreldgebeure. Israel het toe ten opsigte van die leer van die Messiaanse Vrederyk 'n prominente plek in wêreldgebeure ingeneem. Die eskatologiese program het uitgebrei om onder meer die idee van 'n wegraping van die gelowiges in te sluit en dit het meegebring dat die Groot Verdrukking spesifiek rondom Israel sal wentel. Hulle het 'n wetenskap ontwikkel wat geskiedenis en wêreldgebeure orden en verklaar. Die kerk is 'n interimgebeure en word onderskei van God se heilsplan met Israel. Hulle eskatologie is gebaseer op 'n dogma wat berus op Judaïsme en om as basis hiervoor te dien, word sekere Ou en Nuwe Testamentiese Skrifgedeeltes vertolk om in te pas by hulle hedendaagse vooropgestelde modelle oor die toekoms. Om alles in die Bybel letterlik op te neem beteken nie dat die Bybel daardeur suiwer interpreteer word nie. Profesieë (beloftes) het gewoonlik 'n boodskap van God vir die mense wat in die tyd van die bepaalde profesie gelewe het en verder gaan die profesie ook in meer as een fase in die geskiedenis in vervulling. Dit bring mee dat dit in die Ou Testament beloftes gaan oor 'n werklikheid wat in Christus vervul word en kulmineer in die nuwe hemel en nuwe aarde. In die geskiedenis van saligheid is dit die sentrale posisie van Christus wat geld. Die argument van hierdie studie is dat 'n Premillennialistiese beskouing nie Bybels verantwoordbaar is nie en dat dit neerkom op 'n verskraling van die Evangelie van die Koninkryk van God. Die mening is dat 'n eskatologiese benadering vanuit die perspektief van die skeppingsbedoeling van God met die mens 'n Skriftuurlike begronding het. God het in sy almag en liefde vanaf die begin die einde in oog. In die skeppingsbedoeling van God met die mens is aangetoon dat God die gelowige, sy kinders, deur Jesus Christus en die werk van die Heilige Gees, iets gun van dit wat Hyself is, veral die liefdeseenheid wat daar bestaan tussen die Vader, Seun en Heilige Gees. Hierdie liefdeseenheid merk ons reeds in die Ou Testament op vanaf die skeppingsverhaal en dit vind veral uitdrukking in ons kindskap van God in Jesus Christus. Op hierdie eskatologiese reis verleen God identiteit aan sy mense, skep Hy 'n intieme verhouding, versorg Hy hulle en word hulle betrek as medewerkers in sy eskatologiese program. Dit is 'n deurlopende tema wat sy volkome gestalte en klimaks vind met die wederkoms, die voltooiing en volmaking van God se bedoelinge — dus hoort die proton en die eskaton bymekaar. Die verwagting is dat hierdie perspektief op die eskatologiese verhaal van God se op-pad-wees met sy mense in die realisering in die alreeds, sowel as in die hoop op die finale afronding van sy beloftes, verrykende gevolge inhou vir die verstaan en die verkondiging van die Evangelie van die Koninkryk van God in dié verband. Die eskatologie is 'n verhaal van God wat in sy almag en liefde met sy mense op pad is na 'n volmaakte toekoms van saamwees en eenwees in die nuwe skepping. Die realisering en die hoop van God se liefdesreis met sy mense in die hede, sowel as in die toekoms, is gebou op die gebeure van Jesus Christus, sy Seun, en die werk van die Heilige Gees. Masters
Databáze: OpenAIRE